Track 03: Ek Skryf Hierdie Vir Jou

Album: Last Days of Beautiful

Prev 02: Pay Back The Money
Next 04: Sit Dit Af

Lyrics

ek skryf hierdie vir jou vanuit die maag van ’n berg, waar ek ingedruk en geduldig lê en wag, ’n onontdekte deel van die Merensky-platinumrif, ek wil aan jou meedeel dat ek ’n tiervis is, en ek swem kalm in die warm waters van die Okavangorivier, verby die sliertwortels van papirusse en my tande blink, ek lê met my oog teen die stof by Oppikoppi, en ek kyk na die verslete, vreugdevolle voete van mense wat by my verbystroom, ek is in die klein, vinnige spasie tussen Paul Hanmer se vinger en die klawer van die klavier net voor hy daaraan raak, ek sit tans met my hande gevou rondom ’n perfekte granaat in die verbode boord van ’n Persiese tiran, ’n duisend jaar gelede, en dis volmaan, ek spoel uit op ’n strand, sonder ’n draad klere, omring deur goue munte en wrakstukke van my karveel, en meeue is gou daar om aan my oë te begin pik, ek is in die kar op die Krugersdorp-pad, en die verkeer is opgehoop, en daar’s net kak op die radio, en my vensterarm is al rooi gebrand, en my sonbril is gekrap, en ek dink aan die slagte wat ons saam dronk was, en die wêreld vir oomblikke kon verstaan, en besluit het dat ons vriende was, en altyd sal wees, en uit mekaar se lewens sou leer hoe om te lewe, ek kyk nou hier na my glimlag in die spieël, en dit is, verbasend genoeg, die glimlag van ’n skoonheidskoningin, en ek besef dat ek nog nie my beenhare geskeer het nie, en geen idee het hoe ek wêreldvrede sou kon bewerkstellig nie, as die wêreld vrede wou hê, ek is ’n hond, ’n ou teef, met hangtiete en ’n padwaardigheidsertifikaat iewers in die ou Wes-Transvaal en ek kyk na die karre en mense om my en ek dink ‘Fok julle almal’, en dan draf ek aan, maar stadig, ek is in ’n skemer kamer in ’n bed met ’n vrou, ek is ’n soldaat, en mortiere reën om my neer en die laaste brief aan my ma gaan saam met my in my hempsak uitbrand, ek het ’n vrou en drie kinders, ek geniet ’n sigaar, ek is ’n Kubaan, ek verkoop grawe, ek soek ’n voetpad en vind dit, en volg dit verby hoë kranse en versteekte fonteine na ’n vingergetrekte sirkel in die sand, waarbinne ek kruisbeen gaan sit en terstonds verander in ’n dassievoël, met klein swart ogies soos papajapitte – as jy kan onthou dat papajas eens pitte gehad het – ek is swart-en-wit en wanneer jy my klaar afgeskil het sit die stof van motvlerke aan jou vingers vas, ek is verheug dat julle almal hier is, ek ken al julle name, wanneer ons hierdie vertrek verlaat vanaand, verlaat ons dit met nuwe name, en die nuwe tuistes wat ons in die nanag gaan bereik, bestaan in die geheue van die mense vir wie ons lief is, en wie lief is vir ons, ons bestaan voort in die gloed van middernagpetrolstasies, ons lê almal stil aan die voet van witgatbome ver hiervandaan, in die diep-Karoo se grouste gleuwe, ons is die vingers van babas wat nooit gebore is nie, ons is ’n oopgevlekte snoek op ’n braai waaroor nou ’n mengsel van botter, appelkooskonfyt en knoffel gesmeer word, ons is mikroskopiese tekens van lewe op die skadukante van swerwende komete, ons is as, en as is ons, ons het geen anker nodig nie, want ons is die see, die riviere wat opdraand loop, die druppel wat terugvloei na die wolk, die woorde uit die sleutelbord geslurp, die sinne van ink in ’n tyd van lekkende Bic-penne aanmekaargestring in ’n ewige verlede tyd van gryp die dag aan, van lig jou snawel na die son, van oog teen die meniskus van rooiwynglas, van drie in die hoekie in beseringstyd, van woeker, van fluit, van flink, van sin, van want – en daar, ver terug in daardie oerverlede sit ons nou onder ’n oorhang waarbo die sterre bruis saam om die gloed van ’n vuur en glimlag.

ons is as, en as is ons, ons het geen anker nodig nie, want ons is die see,
ons lê almal stil aan die voet van witgatbome ver hiervandaan,
ek geniet ’n sigaar, ek is ’n Kubaan, ek verkoop grawe,
ek is ’n Kubaan, en dan draf ek aan
ek is ’n Kubaan, ek verkoop grawe, ek geniet ’n sigaar,
ek soek ’n voetpad en vind dit, en volg dit verby hoë kranse en versteekte fonteine na ’n vingergetrekte sirkel in die sand, waarbinne ek kruisbeen gaan sit en terstonds verander in ’n dassievoël, met klein swart ogies soos papajapitte, ek is swart-en-wit en wanneer jy my klaar afgeskil het sit die stof van motvlerke aan jou vingers vas, ek is verheug dat julle almal hier is, ek ken al julle name, wanneer ons hierdie vertrek verlaat vanaand, verlaat ons dit met nuwe name, en die nuwe tuistes wat ons in die nanag gaan bereik, bestaan in die geheue van die mense vir wie ons lief is, en wie lief is vir ons, ons bestaan voort in die gloed van middernagpetrolstasies, ons lê almal stil aan die voet van witgatbome ver hiervandaan, in die diep-Karoo se grouste gleuwe, ons is die vingers van babas wat nooit gebore is nie, ons is ’n oopgevlekte snoek op ’n braai waaroor nou ’n mengsel van botter, appelkooskonfyt en knoffel gesmeer word, ons is mikroskopiese tekens van lewe op die skadukante van swerwende komete, ons is as, en as is ons, ons het geen anker nodig nie, want ons is die see, die riviere wat opdraand loop, die druppel wat terugvloei na die wolk, die woorde uit die sleutelbord geslurp, aanmekaargestring in ’n ewige verlede tyd van gryp die dag aan, van lig jou snawel na die son, van oog teen die meniskus van rooiwynglas, van drie in die hoekie in beseringstyd, van woeker, van fluit, van flink, van sin, van want – en daar, ver terug in daardie oerverlede sit ons nou onder ’n oorhang waarbo die sterre bruis saam om die gloed van ’n vuur en glimlag.