Back to Press | SAVES album press

Review

"The Buckfever het 'n plan"
Danie Marais Beeld

11 September 2007

(4 star rating)

The Buckfever Underground se jongste album is soos ’n goeie Asterix-boek. As jy Asterix as tien-jarige ontdek, hou jy van die karakters en die kinkels in die verhaal en natuurlik om te sien hoe Obelix die Romeine pak gee. Wanneer jy ouer is en die boek weer lees, besef jy hoeveel satire en sosio-politiese kommentaar eintlik deel van die storie is.

Net só kan jy Saves op verskillende vlakke geniet. Gooi dit op saam met ’n paar tjops of ‘n partytjie en jy het (met die uitsondering van die besete tierende I want to die on a Tuesday) ’n heerlik byderwetse jazz-rock-klankbaan vir vuur-kyk, whisky en samesyn – gesofistikeerde lounge-musiek vir Afrika se gawe, ontspanne kant.

Maar gaan luister aandagtig op jou eie langs die langpad en jy ontdek ’n welige wêreld van klank en aangrypende, geheimsinnige en eg inheemse poësie. Toast Coetzer se uitstekende lirieke is ’n fassinerende botsing met ’n visueel oorweldigende, volkome verwarrende land. Hy het nie antwoorde nie, maar hy laat jou die chaos, dramatiese ironie en ook tergende skoonheid deeglik voel.

Sedert die Buckfever se debuut-EP, Jou Medemens is Dood (1998), het die groep met trip-hoppy gesing-gesêde nommers soos “Die volk (is in die k*k)” hul vingers sekuur op die pols van sommige jong Afrikaners se misnoeë gehad. Maar ’n Buckfever-album ontaard nooit in ’n doemprofetiese en vermoeiende gewroeg nie. Gaan kyk gerus op die groep se vermaaklike webwerf (www.thebuckfeverunderground.com). Hier kry jy nie net Toast se lirieke mahala nie, maar ook ’n goeie idee van die groep se Bier & Vryheid-houding. As jy op Die Plan klik, sien jy vier manne om ’n hoë vuur met die onderskrif: “Die Plan is om dinge te vat soos dit kom.”

Maar ten spyte van die Die (gelate) Plan stel Saves ’n groep ten toon wat speel-speel musikaal van krag tot krag gaan, en ’n liriekskrywer wat terloops ‘n klomp juwele neergepen het. Snitte soos Die Woord en This is the photograph I was meaning to take is so wyd, oop en onnabootsbaar indrukwekkend soos die Groot-Karoo. Saves is ’n album wat waarskynlik nog lank tevergeefs in die plaaslike musieklandskap na geselskap gaan soek.

Ek het vir Toast Coetzer, die bekende reisjoernalis, fotograaf en sanger-sêer-liriekskrywer van die groep ‘n paar vrae oor die Buckfever gestel.

Is dit waar dat hierdie album al eintlik twee jaar gelede opgeneem is en indien ja, hoekom het dit so lank gevat om klaar te maak?

Dis waar, die album is in Julie 2005 opgeneem binne bestek van 3 dae (die langste van enige van ons recording sessions tot dusver). Die res het 2 jaar gevat omdat ons almal besig was met ander dinge, omdat ons slapgat is, omdat niemand werklik in charge is nie, omdat ons gedink het dit sal sommer net gebeur en toe het dit nie en weens verskeie miskommunikasies. Die recording was effortless, maar daarna het eers Gil en Stephen, toe Paul Ressel en toe nog iemand in Joburg daarmee getorring – mixing en goed. En die CD het lank by almal gelê. Daar was missing tracks en lost mixes en baie sad weke waarin bloot niks gebeur het nie want daar was Cricket World Cup op die TV.

Ek neem aan ’n Buckfever-snit begin met jou lirieke wat daarna geïnterpreteer word deur die groep. Is dit so, of sit ek die pot heeltemal mis?

Jy sit die pot mis. Die band couldn’t give a dam about the lyrics, aan die begin. Die band speel wat hulle wil en ek besluit dan watter stel lirieke moontlik daarby sal pas. Die proses werk rofweg dieselfde in die studio en in die live-opset. Ek het geen sê in die musiek nie, want ek verstaan nie hoe dit werk nie. Ek is onmusikaal.

“Lewenslied” het ’n baie mooi melodie, maar dit klink of jou voordrag/praatsang doelbewus daarteen indruis. Hoekom het julle op hierdie effek besluiit?

I’m afraid it’s my best attempt at singing … Die melodie was mooi, en ek het mooi probeer sing. Ons noem dit ons Coldplay-nommertjie en hoop en glo dit sal nommer een op Jakaranda bereik. Die effek is dus per abuis.

Die Buckfever Underground se musiek pas nie rêrig in enige genre nie en die album sal waarskynlik nie veel op die radio gespeel word nie. Pla dit jou of is die Buckfever Underground gewoon nie ’n groep met enige kommersiële ambisies nie?

Dit pla ons min dat ons nie 100 000 copies gaan verkoop nie. Ons het ons supporters in radio ook – SAFM (Richard Haslop), RSG (Johan Botha), Radio 2000 en Tuks FM is nie skaam om ons musiek te speel nie. Enkele van ons videos draai ook op MK89, wat ons baie goeie blootstelling gee. Ek dink ons het ambisie: Ons wil nog vir lank musiek maak wat ons boei sowel as die sowat 1000 mense wat oor die bestek van 5 jaar eventually ons albums almal opkoop. Dit sal gaaf wees om eendag byvoorbeeld oorsee te gaan speel by die odd festival of wat. Ons is ‘n novelty band, maar ek dink hoe groter en dieper jou recorded record word, hoe dieper spore trap jy eventually. Eventually.

As jy vir iemand in een sin moes verduidelik wat die Buckfever Underground se visie en missie is, wat sou jy sê?

Mmm. Ons het altyd goed gesê soos: Om teen vieruur vanmiddag met ‘n koue bier in die hand te sit. Dit sê ons nog steeds. Die lewe is kort. Ons missie is moontlik om vir lank te bestaan as ‘n band/ konsep, en om so veel as moontlik musiek/ projekte die lig te laat sien, want ons geniet dit en ons weet daar’s ‘n paar mense wat dit saam met ons geniet. Ons missie is om musiek/ dinge te skep wat oor vyftig jaar nog genot kan verskaf, om soveel as moontlik van die huidige tydstroom te dokumenteer op maniere wat dalk deur ander onderbenut word

Beplan jy om jou Buckfever-lirieke te bundel?

Ja, dis een van die projekte in ons planne vir die volgende paar jaar. Ons sal dit onder Paul Wessels se Substance Books uitbring. Die band is volgende jaar 10 jaar oud, so ‘n decade retrospective klink in orde, want daar is honderde bladsye lirieke, goed wat dalk nooit ‘n album sal haal nie, maar wel deel is of was van ons live repertoire. ‘n Song soos ‘Vuyani Bungu Rocks’ byvoorbeeld sal nooit opgeneem word nie, maar drie ouens onthou dit dalk sedert ons dae as studente in Grahamstad.

Is daar vir jou enige noemenswaardige verskille tussen poësie en lirieke?

Ek beskou die terms ‘digter’ en ‘poësie’ as komplimente. Ek skryf. Dit is skryfwerk. Dit is vir die persoon wat dit lees om te besluit of dit poësie is of nie, en of die skrywer daarvan die titel ‘digter’ waardig is. Dit word lirieke wanneer daar musiek by is. Ek skryf selde iets wat in my kop klink na ‘n liedjie – dit het ritme wel, ja, dit kan ek hoor – maar ek val net weg. Dit word wat dit word, en die wat dit beskou of aanhoor kan dit noem wat hulle wil. Dit is dus woorde.