Back to Press | Verkeerdevlei album press

Review

Pieter Redelinghuys Die Burger

August 2012

5 sterre

Na my mening is The Buckfever Underground Suid-Afrika se mees onderskatte groep. Hulle is nie wannabes, hipsters of watter eendagvlieg ook al die jongste gier is nie. Die inhoud is opreg, by uitstek oorspronklik en bowenal verruklik mooi as jy geduldig luister. Verkeerdevlei het 14 snitte– die fenomenale skryfwerk van Buckfever se voorman, Toast Coetzer. Hy is Suid-Afrika se aanspraakmaker op Will Oldham se wêreldtitel as liriekkampioen, hy is ons counter-punch vir ’n Nick Cave-opstopper, ons links-regs-kombinasie vir ’n Tom Waits-haakhou.

Sy skryfwerk is treffend omdat dit eerlik is ­(luister gerus drie, vier maal na “Die Somber Wou”, “Klawer”, “Treinreis” en “Waar is ouma?”).

Righard Kapp doen by meer as een geleentheid iets met sy ­elektriese kitaar wat sweerlikwaar grens aan iets onwettigs. Tog is dit subtiel, soos ’n gil wat gesmoor word, ’n onderdrukte oomblik van ekstase. Hy is ’n stemmingskepper eerder as ­’n kitaarspeler op Verkeerdevlei.

Net soos met vorige Buckfever-albums is dit duidelik dat die ­rolspelers mekaar vertrou en ­verstaan…die lirieke is waaroor alles gaan, die spil waarom die deuntjies draal. Maar om die woorde tot hul reg te laat kom, benodig jy musikante wat met emosie speel, soos wat Gil Hockman (baskitaar) en Stephen Timm (perkussie) hier met oorgawe doen. Verkeerdevlei gaan jou nie laat dáns nie. Maar dit gaan jou laat dínk. Wat Suid-Afrikaanse musiek betref, is daar slegs enkeles wat hierdie edele emosie in luisteraars wakker maak. The Buck­fever Underground is een van hulle.