Track 01: Die Nagorno-Karabakh-blues

Album: Die Nagorno-Karabakh-blues


Lyrics

ons oë syfer oop as drenkelinge, klouend aan dryfhout, terug uit die driftige, koorsagtige nag, waar woorde was, wêrelde weg, waar ’n verliefde was, in ’n halfskemer kamer in ’n gehug iewers in Nagorno-Karabakh, waar ’n virus was, Stalin ook. en nou ’n hand teen ’n bors om te hoor: hartklop klop, hartklop klop buite, ver, ’n vallei wes van hier: wind deur denne, raaf op vlerk, sampioene in die naaldkombers, val die dag se eerste bomme terwyl ’n deur liggies op knip gesit word, ’n geweer oorgehaal word om ferm ’n koeël uit die magasyn van ’n gladgeoliede jaggeweer te lig en dit in die vingerafdrukbevatte loop te laai, slaggereed om werk te gaan doen daar buite, uit te sluip, en kennebakke, slape en adamsappels te gaan uitsoek, met die hand, soos in ’n antieke markplein van wat nou ’n postmoderne oliestad is soos Baku vasgeborduur aan die Kaspiese-see, waar die drie glaskloue van die Vlamgebou opvloei na bo asof dit vir die hemele ’n gloeilamp wil indraai – dáár, maar lank gelede, sonder die wete van toekomstige vernietiging en twis, en Stalin, veral Stalin, en die gulags, die gulags, in ’n tyd toe die Syroete nog sy per voet en karavaan donkie en kameel en seker ook per slaaf uit China gebring het tot hier, waar ’n ouvrou met vingers wat in die nagdonker ’n okkerneut sou kon vashou en kon sê of dit die hartklop het van varsgebak, of vrot is met ’n mikroskopiese kwaal deur die mandjies gedroogde perskes voel, tas oor die tenger stele van saffraan en die vars wange van geelgespikkelde pere en die koeël lei na die einste oog van die verskuilde soldaat iewers in ’n kloofskadu teen die sneeubedekte hange van die Kleiner-Kaukasusgebergte van Nagorno-Karabakh, land van die swart bergtuin, en nou ook weer die nuwe hoofstuk van ’n stryd so oud soos tyd, om voor te bly wanneer iets jou jaag, om in te grawe wanneer iets oor die horison bars. só word ons wakker, as ons waarlik nou wakker is (is ons wakker, het ons met ons volle bewussyne hier ingestap en kom sit en beskaafd geselsies aangeknoop met kelners en kopgeknik vir mense wat ons soortvan ken, of het ons hulle laas gesien op Instagram, wis ons dalk meer van die haarstyle van hulle kinders, katstreke, die hond, die afstand gedraf vanoggend presies afgemeet deur ’n berekende swart slimfoon aan ’n gewrig?) soos leë skuite vasgeklots teen die hawehoof, patryspoorte uitgeslaan, kompaste afgetol, noordloos en vuisvoos deur ’n verskiete storm waarvan nou net die skimmel op die water oorbly, tussen die laaste walvisoë, gebal teen alleen-wees (jy sou ook op vlug slaan, sou jou plankton te dun raak om met ’n strooitjie in jou katedraal van ’n lyf in te sif, die badwater stadigaan, ongesiens aan’t kook raak) en die stomme son, wat oor die berge stamel en oor ons lywe streel, met staaltande waar ons te ver van die land dobber om gehoor te word, sou ons wou skrou om gesien te word, sou iemand soek, en die witkwas swiep oor die geboue en strate waardeur ons eendag gewandel het, lewenstye lank, wat ons gedink het pleingewoon, vervelige, onbelangrike bestane was, is toe die kern van die storie, die pit in die kers wat ons vir al hierdie jare – jy dink net vyf, dis nie so lank nie, maar as jy weer sien is dit 30 jaar later, 30 jaar nadat die drie ouens van Massive Attack, plus hulle vriende Shara Nelson en Tricky iewers in Londen in ’n kamer die musiekvideo geskiet het vir ‘Daydreaming’ en jy voel die woorde, wat ritmies tik van die mond van die een rapper na die volgende, weer soos gister, weer soos gister, en 19 jaar sedert twee passasiersvliegtuie deur New York se hoogste geboue geklief het en jy onthou, jy onthou weer soos gister die stof en die rook, en die stilte op die TV en die A4-folios wat soos konfetti, of soos as, oor die jillende stad uitreën uit die brandende torings wat die CNN-nuusleser se mond al stadiger laat beweeg, al stadiger laat beweeg, of 30 jaar sedert Nelson Mandela uit die tronk gestap het met sy vuis ferm en vriendelik gebal teen die stryd wat voorlê en wat die res van sy lewe sou opvreet soos ’n ruspe, en al wat daarvan sou oorbly, ’n kas vol leë, grys pakke iewers, ongeknoopte dasse dalk, steeds gepoetste skoene, standbeelde wat by die dag verdonker onder hierdie son, hierdie son, en 43 jaar sedert Steve Biko dood is, wat ek onthou want my geboortedag en sy sterfdatum val saam soos toevallige rug-teen-rug boeke in ’n ongelyste, vergruisde biblioteek van die toeval, per ongeluk opgeblaas soos Beirut met ’n skuur vol kunsmis – dit is vreemd om te dink dat, die dag voor my geboorte, en die dag voor sy dood, my ma in die hospitaal in Cradock lê en wag vir my om my verskyning te maak, en terselfdertyd word die reeds gemartelde en beseerde Steve Biko onder polisiebewaking van Port Elizabeth na Pretoria vervoer, ’n roete wat die konvooi – of was dit net een ongemerkte polisiekar? – byna sonder enige twyfel deur Cradock moes geneem het – en dis ook al weer agt jaar sedert Marikana, toe R5-koeëls tussen die kapmesse, knopkieries, kledingstukke en rukkerige selfoonvideo-footage deur organe en are en bloed gaan soek en gekry het – al hierdie jare wat ons gedink het niks was, was toe die heeltyd iets, iets vreemds, iets mistiek, iets bonatuurliks, wat ons vel soos appelliefiedoppe laat opwriemel het om die hoeke van ons oë, die sonspikkels op ons velle laat vermeerder het soos modderige sandbank-archipelagos by die mond van ’n delta, iets wat ons drome bly fyner en fyner oopsplyt, soos ’n man met ’n byl in ’n woud vol bome, ontevrede met hoe fyn sy fynhoutjies is, sodat ons deur onsself kan sien selfs wanneer ons slaap, en die deure tussen nag en dag, en lig en donker, en goed en kwaad ooplos in ons gedagtes, ons harte, ons lewens, want dit is wat ons is, ons is bonatuurlik en vreemd en gekoppel, deur die vliegtuie van vandag, die karvele van eeue gelede, deur boeke en hiërogliewe, deur kremetartbome en enigmatiese elande teen rotswande, en deur die Australopithecus-stamboom wat oor die vernouiings van kontinente gestap het met breë voete aanvanklik dalk agter niks anders as ’n gewonde haas aan, of die belofte van ’n fontein, ’n oase, daar waar die lugspieëlings skrefiesoë trek, lank voordat pelgrims die berge van Sinaï ingeboemel het agter gebede aan, lank voor Jerusalem, Rome, Konstantinopel, voor die Perse, en die Zoroastriërs, selfs lank voor die farao Djoser en sy vizier Imhotep die bak idee gekry het om piramides te begin bou, selfs vóór dit, tóé al stap ons hier rond, verbind aan mekaar, onvermydelik verwikkeld, ingewikkeld-bloedvermeng, verkwik van oergedagtes, kruisgesteek van die kleinste toonbeen tot die diepste draai van ’n DNS-heliks, met die oë van migrerende geelbekwoue, rooivalke, windswaels en bosruiters op ons skouers vanuit die veilige hoogtes van hulle onveranderde trekroetes oor die Isthmus van die Korinte, Gibraltar, die Horing van Afrika, en die Straat van Hormuz, die voëls, die stomme natuur, die ysbeer sonder ys, die dingo sonder ding, die dodo, die dodo, die uitgewiste randfigure in ons gulsige vervolgverhaal, die gru-sepie, die aksiebelaaide epogmakende maalstroom van ’n minireeks sonder keer waarvan die netwerke en Netflixe en Showmaxe nie genoeg kan kry nie, daarom, deur die eeue, oor die kontinente, speel ons voort, word ons rolle vervul deur familie uit vorige en komende generasies, maar ook op vastelande links en regs van ons, en siele reiner of meer onheilspellender as onsself, sodat ons saamstap in die droewige menskaravaan van Guatamala deur Meksiko tot teen die brandende muur van Amerika, saam protesplakkaat swaai en waterkanon trotseer in die gladde strate van Santiago, saam boos raak vir Brasilië se Bolsanaro wie se grys neus g’n rokie ruik nie, saam vlug in die nag wanneer Boko Haram deur die riete bars en die dorp besaai met vrees en bloed, saam verdwaas uit ’n huis iewers in Sirië strompel met ore wat zing van ’n vriendelike vyand se bom wat jou buurman se huis in puin lê, saam vlug na hoërliggende grond in Suid-Soedan wanneer die Nylrivier enkeldiep in jou huis kom lê, saam koudkry in die nag op die strate van die stede van Suid-Afrika, saam bedel by die robotte, saam van daai hartjieplakkers probeer verkoop vir brood, dalk selfs saam hofgeboue bestorm in Senekal, want ons gesigte is die gesigte van die voriges en die toekomstiges, die dooies en die spoke en die ongebore vorentoegeeste, en daarom is ons onder andere, maar nie uitsluitlik nie, die verliefde wat die deur op knip sit in die bergkoninkryk met die swart, diep landbougrond, perfek vir okkerneute, pere en perskes, Nagorno-Karabakh, met ’n mond vol soene en liefde en die fynreuk van vel in die neus, en ons is ook die verliefde wat agterbly in die kamer, met toegetrekte gordyne, gedagtes tastend deur kalendermaande wat kom, na lang kuiers om tafels in die agtertuin met skoonouers of skoolvriende of verlangse neefs wat kom kuier en dalk ook kinders, een of twee of drie, honde en katte, en voortbestaan en vrede en al die mensdinge waarop jy voel jy geregtig is, of ten minste ’n regverdige kans moet kry om na te jaag, want hoekom, hoekom jy, hoekom vandag die bomme in die vallei net wes van hier, wonder jy met jou lippe nog aan die tintel, en die tabakreuk in die baadjie wat hy gelos het aan die haak agter jou kamerdeur terwyl hy buite hoed op die kop sit en straat af stap en gaan wag vir die vriende in die ou bakkie wat hom na die voorste linies vervoer, vandag, in Nagorno-Karabakh.