Track 04: Sit Dit Af

Album: Last Days of Beautiful

Prev 03: Ek Skryf Hierdie Vir Jou
Next 05: Walk Fast, Whistle

Lyrics

is jy ook gatvol vir als wat jou foon jou bied van hoe dit jou per twiet herwaarts hiet en verniet gebied, jou gedagtes giet per Google-georkestreerde order van debiet?

in daai geval, sit daai slimfoon van jou af, want die glim van daai slimfoon wat vir jou dim maak

is jy ook nou dommer as toe jy jonger was nie, voller van kommer as toe jy eenvoudig was nie? en is jy deesdae die verbeeldinglose kwas wat volgens sagte bevele volg en verf waar jy eens die kunstenaar was, die individu?

die slimfoon se glim dié maak vir jou dim, so sit dit af, vriende, kom ons sit daai slimfone van ons af

al is jou vinger op die elektroniese pols van sake is jy elders ’n skim, selfs ’n morhoon die slaaf van ’n slanke slimfoon (skerm ongekraak) jou sprankel verdrink, verstar jou kake in die geknars van die algoritme jou droë dopsels oë gerig op die fantastiese fasade van ’n likeable droom geketting aan die kletterjoel click-through ads na aanlynwinkels en Zuckerberg-zones waar die klank van jou kredietkaart vir ’n ander ou lyne laat sny en dalk ook laat droom van ontsnap van dit alles en vlug na waar die visarend roep en soepel vlerkklap hier in Afrika

ja, sit dit af, sit dit af, want selfs die president van Amerika regeer ons uit die palm van sy hand met die swaai van die towerstaf van sy foon word kwaad gestook in Damaskus, Pjonjang en Indonesië, (en selfs hier in Darling) die land van blatjang die Wildekus van beeste en krewe en tussen turksvy en coyotegat op die oewer van die Rio Grande teen die grens van Meksiko waar hy mos nou ’n muur wil bou

maar kan jy glo, dié vent, ene Trump kan jy afsit met jou duim net só!

so sit dit af, sit daai slimfoon van jou af, kom ons sit daai fone af ja, en die tirannie van die blokketting Bitcoin kan jy wegraap met die plant van rape en radys heel organies sommer in die agterplaas by jou huis

sit dit af, vriende, en sien die son daarbuite en in die harte van jou vriende en jou vrou jou kinders en jou man sal jou meer waardeer wanneer jy weer weet wat vanaand te ete is sonder om gou te gaan soek na ’n sopresep op BBC Food of hoe? (want is sop dan nie iets wat jy uit jou kop uit behoort te kan maak nie? almal kan sop maak, jy hoef nie jou foon te vra hoe om sop te maak nie, maar tog – daar staan ons en Google ‘hoe maak ’n mens sop?’ jy moet dit uit jou kop uit kan maak – sit af daai slimfone… sit dit af!)

dit is ook onmoontlik om met jou foon hoe slim of oud, koud of goud, woorde te kan skryf of te hoor soos hierdie:

silwer in die leivoor pouveer in die pad vol sterre en sing soos spreeus sou in die sipresse soos nou val elke vonkel lig in die lukwartpitswart oë

en:

brons teen die berg palms teen die bors die koedoes is op kerk en die besembosse lui tot net die suidewind waai kloof af, (en straaf af, en op met die R27) en koebaai

ja, sit dit af vriende, sit dit af (ons het nie regtig ons fone nodig om te ry tot by Darling nie, maar tog, daar sit jy by die huis en jy maak foon oop en jy sê ‘ek wil ry na Evita se Perron’ en dan druk jy ‘OK, start’ en dan kry jy directions, al was jy al 10 of 20 keer in jou lewe hier in Darling, moet jy nog steeds vir jou foon vra hoe om in Darling uit te kom, dis heeltemal onnodig – ek het dit self gedoen, guilty as charged – almal weet hoe om in Darling uit te kom, jy hoef nie jou foon te vra nie – sit dit af – as jy nou regtig verdwaal vra vir ’n ou langs die pad, draai jou venster af en vra ‘hei, weet jy waar’s die regte pad Darling toe? ek is in Atlantis, ek het verdwaal, is ek diep onder die see?’ ‘Nee, Darling is net in die pad op, ry verby Mamre, jy gaan daar uitkom, jy gaan oraait wees ou maat.’)

so sit daai slimfoon van jou af, maak vir ’n slag weer sop uit jou kop uit. Hei, mis jy jou vriende? Jy hoef nie net hulle fot’s te like op Facebook nie, jy kan hulle ook bel of na hulle huis toe stap en aan die deur klop en sê ‘hei, hier is ek, ek het jou laas gesien by jou troue, ek het nie geweet jou kinders is al so groot nie’ – maar hulle gaan seker besig wees op hulle slimfone, besig om games te speel… sit dit af, vriende, sit dit af