Track 14: Driebeen

Album: Walk Fast, Whistle

Prev 13: Deathland
Next 15: Amen

Lyrics

ek wil by die ystervark in die hoek van die kraalmuur lê
wanneer die kieriehoue kom en die lug begin ruik na
beesmisstof en ek wil by die koedoebul staan en herkou
in die skadu van ’n olienhout wanneer die punt van ’n .243 sako-
koeël deur sy nekvel slagaar oopblom en ek wil
saam met die termiete in die nag skarrel wanneer die tong
van die erdvark soos ’n slang deur die tonnels van ons paleis
verwoes en ek wil op die rand van die witkruisnes sit
wanneer die sterk kuiken se gepik uiteindelik die ander
swak genoeg maak om by die krans af te skop en ek wil
myself kleinmaak teen die dak van ’n vinknes wanneer
die lang geel poot van die kaalwangvalk kom kuikenmoord
en wil in die hoek van ’n kamp paniekbevange maal met angoras
wanneer die rooikat aan die byt raak en ek wil die hoenders
help raas wanneer die likkewaan stadig tydens die middag-
slapie die eiers een vir een papkaak en kyk hoe deborah die
mes teen die keel van die skaap sit waar dit lê op die slag-
klip by die seeppot en help vashou en sien hoe die dik warm
bloed in die voor afloop en ek wil die veearts help trek
aan die dooie kalf nou al drie dae aan die vrot in die
koei se buik en ek wil onder ’n ghombossie sit vir ’n week
terwyl in ’n slagyster waarvan iemand vergeet het ’n
muishond sy been afdraai en weghuppel op drie.