Track 08: Koedoes In Die Heelal

Album: Last Days of Beautiful

Prev 07: When I’m Gone / Wanneer Ek Weg Is
Next 09: Eating The Land

Lyrics

soggens skuif die son ons voete warm
tot in die sy, waar ons strepe hang
ons is bokke, koedoes
in die heelal
uitgesprei oor die koppe, die rante, hange, valleie, klowe, kranskoeltes, knope aalwyn, swart olienskadus
en hierin wentel ons, saam, oor plaasdrade, teen wildheinings af
op soek na oorspringplek, met ou bergpaadjies langs, om besembos en blinkblaar,
oor suurpol en rooigras, verby klipstapel en rotshoop, die planete van
dassies, rooikat, ystervark, vlakhaas, pofadder, bleekvlerkspreeu
en ons kalm oë drink die wip van die uur
aaneengestroom, onafgebroke
nie as tyd nie
maar as leeftyd
by die koel fontein
voed ons die aarde, en die aarde ons
neuse raak aan mekaar en god,
’n skepping, lippe vol intieme
elektrisiteit fotosintetiseer
deur die somer, herfs, winter, lente
ente pyn, seer van hart,
korte duur, elle lang,
tot vul
wat uit
die herd ontsnap
die drade knip
die gewelf ontglip
ek kyk na jou
en jy na my
en ons bene lê die wêreld wit

ons is bokke, koedoes
in die heelal
saans trek die nag ons toe
ons vou ineen en hang
soos vlermuise
in die wind

ons is bokke, koedoes
in die heelal
saans trek die nag ons toe
ons vou ineen en hang
soos vlermuise
in die wind