Track 01: Ek en jy

Album: SAVES

Next 02: All You Need In Life Is A Soul

Lyrics

jy is nou nie meer so alleen nie
jy is my arm vasgehekel in my skouer
windswaeleiers bars oop in modder
kom daar menigtes uit jou binneste
span ons wolke oor die droogte
trek ons kettings los van reën
sprei my oop met jou skerp mes
jy ken my hakskeen jy ken my skrotum
sout en bosluise proe ons saam
graaf my koudhand deur die donker
die systrate van ons spelonk
besaai met karton en glas wat kraak
spraak wat grommend bloei en tas
onder die danse van mense in vlas
ek gooi my gewig in in die vlakkant
jou longe skepskep asemasem uituit die diepdiep
is dit die enigste hoop wat ons oorhet
is hierdie seisoen die laaste retread
kom daar weer met reëlmaat valke uit die noorde
sal die boorde weer pars in ons monde om bottels
sal die groen weer welig onder ons mos kom maak
kom die vloede in spruite met rotse of sand
weef my saam met vinke deur die riete van jou hart
weeg my in jou hand blaas my in die wind
wens ’n wens kerf ’n mens uit klip
vernis vier lae dik bestand teen die son
faktor veertig my vlugvoetige
ek kan die pas van jou tyd met ’n vinger volg
swaeltjies in stereo die niks tussenin
elke treinspoor elke sport elke stukkende stasie
deurgeroeste padteken koeëlgate sinkplaatpaaie
turksvye is soet onder die skil van fyn dorings
bobbejane is behendig daarmee maar die mense sukkel stom
om die onderskeid te tref tussen die liefde in die oë
en die druppende heuning uit die neste van jou kloof
waaruit die helikopters uitvaar met oopgespalkte ribbes
en gorrels wat laag hang van die blinkswaar brandstof
om op ons dorpies te kom afpeil
en ons kospotte omskop
ek sê jou nou my vlugvoetige
ons moet die berge oor in economy class
die voetruimte is min maar die kos is ok
ons moet ons velle maar oopsprei en goed brei
want van vonke uit die polse kom vure uit die vingers
elke stukkie vel van jou verdwyn ek in klein
spat deur die warmte die oopgeplukte gordyn
is my huis is my bed is my oopgekloofte herd
waar ons hande nou saamvryf
ons lywe nou vaskleef
ons monde verdun
ore kom klop
was lank terug niks
net ’n straathoek
met ’n man wat knik
na ’n vrou in ’n kar

kan ek hierdie in jou oor fluister grassade wat blaas in die wind die omgekrulde woestyn is die witgegooide laken wat nou hier binne my verdringde skelet se erosieslote vol garingbome in twee kom skeur

kan ek hierdie deuntjie fluit met ritme wanneer jy jou byl stompkap teen my harde huid en die sagte stukke vleis om die panne water opgedam in die kaste van my oë kom leegdrink

(en mag ek saam met jou swem in diep klowe
voordat tyd ons kom berowe)