Track 07: Die Wortel Van Kwaad

Album: SAVES

Prev 06: Die Woord
Next 08: Want To Die On A Tuesday Afternoon

Lyrics

dis sondag-oggend net na vyf, moeg van die gefuif en die gepluk van die druif, huiwer jy ’n oomblik, vat dan aan haar lyf, sommer hier om haar hals, als skielik styf, in jou kop is jy die wenner so jy mik vir eerste prys, maar pasop vir die silwer, dit los die merke van jou vingers, die roes van jou sweet, die kontoere van jou crime, want die stinkste kwaad word gestook met steenkool, saamgeperste blare van jare se verwisseling van siel om herd, sening om drank, die dolk deur die oog van die kameeldoringstomp en die kole gloei, die vonke dans, die wolflonge blaas, die vrug van jou hart word gekou tot ’n stronk, in die mond van ’n mier, met die kies van ’n buffel en die tande van ’n tier.

dis hier, in die pitte van die siel waar robyne lê, donker ingeryg soos koeëls aan karabyn, karapules gif, trane in ’n klier, besoedelde kuslyn versier met dooie diere, ’n skedelkus-toer met ’n stukkende bus en die reuk van vis in die mis van die oggend wat woedend brand, soos pis vol suur, die steen van jou nier maak alles sekuur, die pyn op ’n punt wat die loep van glas die sand laat smelt, die kors laat skeur, die maal laat kolk, die boor laat boor, die pomp laat pomp, die bom ontplof, die stroom laat vloei - die dinge wat nou sy kop oopkraak, soos hy oopgordel en gereedskap uitpak:

een na die ander, die tweehoringadder, die driebeen-halfmens, die viervoet vasskop, van die vyfman-skrum, die seks-seks-seks, die sewe sakke cerebos, die agt is die agt wat agterbly agtermekaarstap agter die vlag aan op Agtergeblewene Dag seremonie, en nege is die negende hoed op die kapstok, kak op die karkap, karp op die paphoek, pak in die hoek-kas, baba in ’n swartsak, boksgeveg bloedbad, kraak haar neus, kneus haar lyf, want tien is die gebooie wat jou boei en gesel in ’n sel, en die eensame eeue, wat jy gaan griesel in die hel, met spykers in jou vel, met skubbe in jou mond en jou hol net ’n wond waar die wildehonde lek, en die voëls kom vrek en die duiwel se drek die kabels en die klippe, die stene en die stokke met geweld kom uittrek.

jy - met jou opmekaarklap kake jou skerp okapi kapmes, die knik-knak knetter van tekkies oor die gravel en jou skynbaar onskuldige kromkruip gebedel, met jou bobbejaan-skedel en ’n brein van klip, versteende hout,die fossiel van ’n mier, met jou kraakbeen vingers, vyf aan elke hand is jy in ’n bende of is jou pa ’n boer? jy’t ’n stywe beursie in ’n stywe broek, maar in die skadu van jou skoene slyp die slange hulle splete aan die hoeke van jou skene, want jou skete is baie en jou swak is diep, dis ’n skag met ’n grag en die groen gras groei om die galg

in die donkerste woude van woede en verdriet
staan jou naam neergeskryf met ’n skerf antrasiet
in die diepste verskanse van die wye verskiet
staan soldate op wag by die spergebied
met vingers op snellers en oë wat verspied
na die van jou soort om toegang te verbied